Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 27 FEBRUARIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.

In die nuus vandag:

OKOSA DINK WEER OOR REGULASIES

INNOVASIEKOMPETISIE – EERSTE FASE WENNERS AANGEWYS

DRIE RADIOAMATEURS DEUR SOMALI-SEEROWERS AAN DIE OOSKUS VAN AFRIKA GEDOOD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

OKOSA DINK WEER OOR REGULASIES

Die Raad van OKOSA het besluit dat die outoriteit nie ʼn tweede publieke hersieningsproses sal hou nie maar die finale regulasies binnekort in die Staatskoerant sal publiseer. Geen finale datum is by die SARL/OKOSA-skakelvergadering gegee nie maar dit sal voor die einde van Maart 2011 wees.

By die skakelvergadering is die kwessie van wedersydse ooreenkomste tussen SAOG-lande ook bespreek. Die SARL-afvaardiging het daarop gewys dat die SARL versoek het dat hierdie saak, wat al lank sloer, dringend aandag moet kry. Die voorsitter van die vergadering, Phil Molefe, het aan die personeel wat die vergadering bygewoon het, instruksies gegee om binne ʼn week aan die SARL se versoek aandag te gee. Hy het as voorsitter opgetree in die plek van Dumisa Ngwenya wat die WRC se voorlopige vergadering in Genève bywoon.

Terwyl dit nognie in die Staatskoerant gepubliseer is nie, sal die lisensiegelde nie op 1 April styg nie, maar eers in 2012. Die lisensiefooi vir die tydperk 1 April 2011 tot 31 Maart 2012 sal R27 bly.

Die SARL-afvaardiging het ook publisering van die toewysing van die 135,7 tot 137,6 kHz bespreek. Die toewysing is ingesluit in die tabel van amateurradio-toewysings wat saam met die nuwe regulasies gepubliseer sal word. OKOSA het egter toegestem om die moontlikheid van die uitgee van ʼn aparte Staatskoerant te ondersoek.

INNOVASIEKOMPETISIE – EERSTEFASE WENNERS AANGEWYS

Agt inskrywings is vir die innovasiekompetisie, wat deur Multisource en Icom geborg word, ontvang. Twee wenners is deur die SA Amateurradio Ontwikkelings Trust aangewys.

Deon Coetzee, ZR1DE, het ʼn voorstel vir die ontwikkeling van ʼn platform vir die rig van direksionele antennas ingedien. Die projekvoorstel beskryf die ontwikkeling van ʼn platform wat beide die meganiese struktuur en die elektroniese stelsel insluit vir die beheer van direksionele antennas soos byvoorbeeld ʼn paraboliese skotteltipe wat ʼn bewegende bron soos ʼn satelliet volg.

Hannes Coetzee het 6 voorstelle ingedien waarvan een gekies is vir onmiddellike verdere ontwikkeling. Sy voorstel is vir ʼn eenvoudige, innoverende grondstasie wat moderne byderwetse RF-geïntegreerde stroombane in samewerking met ʼn persoonlike rekenaar gebruik wat met ʼn klankkaart toegerus is vir die ontvangs van ’n satelliet se afwaartse seine. Sagteware Gedefinieerde Radio (SDR) bied die geleentheid om by die pret aan te sluit, te leer oor toekomstige radio en al die krag van Digitale Seinprosessering deur ʼn rekenaar aangebied, te geniet, sonder om bankrot te word.

Albei deelnemers het tot 15 Mei om hul ontwerpe te finaliseer en ʼn prototipe te bou wat voorgelê moet word by die jaarlikse toekenningsfunksie van die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust wat op 6 June 2011 te Midrand gehou sal word. Die wenner sal ʼn ICOM7000 HF-send/ontvanger van die Besturende Direkteur van Multisource, Richard Smuts-Stein, ontvang.

DRIE RADIOAMATEURS DEUR SOMALI-SEEROWERS AAN DIE OOSKUS VAN AFRIKA GEDOOD

Drie radioamateurs, Scott Adams,K9ESO, sy vrou Jean,KF6RVB, en Bobbie Riggle, KE7IIV, is deur Somali-seerowers vermoor. Phylis Macay, wat ook saam met hulle was, is ook vermoor.

Die vier was aan boord van Adams se seiljag, Quest, aan die kus van Oman in Oos-Afrika toe seerowers die vaartuig op Vrydag 18 Februarie beset het. Amptenare was in die proses om vir hul vrylating te onderhandel toe geweerskote om 01:00 op 22 Februarie gehoor is.

Verenigde State vlootamptenare het op die geweerskote gereageer. Vloot “ Seals” het aan boord van die jag gegaan om te vind dat al vier gyselaars deur die seerowers geskiet is.

Volgens ʼn verklaring deur die VSA se Sentrale Bevelsgesag is onmiddellike pogings aangewend om lewensreddingsorg toe te pas maar al vier gyselaars is uiteindelik aan hul wonde oorlede.

Somali gebaseerde seerowers het skeepvaart aan die Ooskus van Afrika vir die afgelope jare geteister, maar geweld en die bedrae geld wat geëis word het in onlangse maande gestyg. Seerowers hou tans sowat 30 skepe en meer as 660 gyselaars aan, maar dit is die eerste keer dat Amerikaanse gyselaars gedood is in ʼn Somaliese seeroweraanval.

SARL-KONVENSIE

Onthou die SARL-Amateurradiokonvensie op 16 April. Registrasies vir die skemeraand bootrit op die pragtige Vaalrivier, die besoek aan Bloemendal en ook die Gala-aand word nog ingewag. Hierdie gaan 'n bobaasnaweek wees. Besoek www.qsl.net/zs4srk om gebruik te maak van die afslag vir vroeë registrasies. Die pragtige Vaal wag vir jou!

HAMWAN-VERGADERING

’n HAMWAN-vergadering sal vir alle geïnteresseerde radioamateurs gehou word. HAMWAN staan vir HAM Wye Area Net en is ’n inisiatief van HAMNET en behels ’n WiFi-netwerk wat op die amateurfrekwensies gebruik word.

Besonderhede is as volg:
Tyd: 19:00
Plek: Echo Charlie in Plantasieweg in Springs
QRV: 145,675 MHz die Oos-Randherhaler
Indien jy verlore raak bel vir Chris op 083 543 5668 vir aanwysings.

Die doel van die vergadering is om te bepaal hoe en wanneer hulle die toerusting wat hulle reeds het sal bymekaar maak. Jou hulp en kennis sal hoog op prys gestel word.

KOMPETISIENUUS

Sondag 6 Maart 2011 - SARL Hamnet 40 m Gesimuleerde Noodkommunikasiekompetisie. Hierdie ESB-kompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Swaziland, Mosambiek, Lesotho, Marion Eiland en Suid-Afrikaanse Antarktika. Slegs kontakte met hierdie gebiede sal tel. Die kompetisie is vanaf 12:00 tot 14:00 UTC op die lug met deelname as 'n Enkel-operateur mobiel, enkeloperateur draagbaar, multi-operateur draagbaar of 'n enkeloperateur basisstasie.

Saterdag 12 Maart 2011 - SARL Maart Malligheid JD-naelloop. Hierdie naelloop herdenk Internasionale Vrouedag op 8 Maart tussen radioamateurs in Suider Afrika. Roep "YL Sprint." Die naelloop is vanaf 09:00 tot 10:00 UTC op die lug en 'n RS.-verslag en YL of OM word uitgeruil.

Voorlopige uitslae van die SARL Nasionale Velddag.
Die komitee het 26 logstate per e-pos ontvang. 11 van Klas A, 3 elk van Klas C en D en 9 van Klas E. Een van die logstate is 'n kontrolelog.

Klas A.
1ste Wesrand ARK, ZS6WR, 96 600 punte
2de Noordkaap ARK, ZS3NC, 85 860 punte
3de Sasolburg ARK, ZS4SRK, 56 400 punte

Klas B, geen inskrywings nie

Klas C.
1ste Wessie Wessels, ZS2A, 43 200 punte
2de Pierre van Deventer, ZS6A, 40 560 punte
3de Paul van Spronsen, ZS1PVS, 25 536 punte

Klas D.
1ste Geoffrey Lotz, ZR6XZ, 56 160
2de Pieter Nel, ZS1PN, 2 160 punte

Eddie Leighton, ZS6BNE, het 10 710 punte in hierdie klas as 'n kontrolelog behaal.

Klas E.
1ste Pieter Jacobs, ZS6XT, 30 700 punte
2de Derek Stuart, ZS2J, 9 360 punte
3de Renier Burger, ZU6HOT, 7 236 punte

Die finale en volledige uitslae sal in die week in HF Happenings 445 gepubliseer word.

KLUBNUUS

NUWE HERHALER OP MARIEPSKOP

Die OTL-klub het 'n herhaler op Mariepskop opgesit. Dekking behoort na aan 200 km in die Kruger Wildtuin in te strek. Die frekwensie is 145,712 5 MHz en geen toon is nodig nie.

Toetse is gedoen met Schalk, ZS6DVD, in Skukuza, 'n afstand van 80 km. Hy het 'n eksterne antenna gebruik en het die herhaler S9+60 dB ontvang. Ontvangsverslae is ook van ZS6G in Witrivier met S9 plus ontvang.

In die Skukuzagebied kan u 145,637 5 MHz gebruik wat ook gekoppel is aan:
Mariepskop op 145,7125 MHz.
Middelburg 145,737 5 MHz
Machadodorp 145,762 5 MHz
Roos Senekal 145,662 5 MHZ
Ermelo 145,700 MHz
Hierdie herhalers is almal aan mekaar gekoppel.

Pretoria/Johannesburg-amateurs sal nou met die KNP kan gesels mits hulle die Middelburgherhaler, 145,737 5 MHz kan sneller.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak middelmatig is. Nuwe sonvlek 1 163 het 'n skouspelagtige fakkel op 24 Februarie opgelewer. Sonvlek 1 163 is besig om meer in die aarde se rigting te roteer wat groot effekte op die aarde se magneetveld kan inhou indien die uitbarstings voortduur. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting ongeveer 30 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe goed wees. Kontakte met Australië is na sonsondergang op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die aand moontlik. 15 en veral 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag 28 Februarie - Laaste dag vir indiening van voorstelle aangaande Strategie-indaba van die SARL-raad na www.armi@sarl.org.za.
28 Februarie - Laaste dag om aanbiedings om 'n stasie tydens die IARU Streek 1 konferensie by Sun City op te rig en te bedryf, in te stuur na iaru2011@sarl.org.za.
5 Maart - ZS6PTA se vlooimark by die POMC-klubhuis te Keuningstr, Silverton beginnende om 08:00.
6 Maart - SARL Hamnet 40 Meter Gesimuleerde Noodkompetisie vanaf 12:00 tot 14:00 UTC op die lug.
12 Maart - SARL Maart Malligheid JD-naelloop van 09:00 tot 10:00 UTC.
19 Maart - RTA, Kursus oor programmering in Windows in Kaapstad, besoek www.sarl.org.za om te bespreek.
25 Maart - SAiSAT Inligtingsessie by die NARS.
2 April - SA AMSAT se Ruimtesimposium by Vodaworld, bespreek nou by www.amsatsa.org.za.
15-16 April – SARL Nasionale Konvensie te Vaal Universiteit vir Tegnologie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003